Residentia Bethulie Se Kreatiewe Kok Stof 22 Ander Uit

Antoinette Griessel (38), voedseldiensbestuurder van Residentia Bethulie, is aangewys as die algehele wenner van die Residentia Mastercook 2018 Bootcamp wat onlangs by Mooi Hawens in Winkelspruit gehou is.

Altesaam 22 voedseldiensbestuurders, toesighouers en kokke van 14 Residentia-skemas van oor die land heen, het vanjaar van Pretoria, Krugersdorp, Roodepoort, Nylstroom, Bethal, Rustenburg, Frankfort, Bethlehem, Kroonstad, Bellville, Winkelspruit en Bethulie, saamgetrek vir Residentia se eerste Mastercook Bootcamp.

Verskeie betrokkenes op verskillende terreine van spyseniering en voedselbestuur, het tot die program bygedra. Die Mastercook-kursusgangers is in spanne ingedeel met ’n aandeteuitdaging vir elke span.

Hulle moes hul etes beplan, aankopielyste, uitnodigings en spyskaarte opstel, hul tafels dek, etes voorberei, garneer en voorsit.

‘‘ Die onsekerheid oor alles wat op my wag, maak my bang, maar deur die krag van die Here het ek tot hier gekom . . . — ANTOINETTE GRIESSEL

“Alles wat ons gedoen het, het punte getel en ons span, die Groen Mambas, is as die wenners aangewys.”

“Ek het glad nie die Mastercook-toekenning verwag nie en was heeltemal uit die veld geslaan.

“My emosies het heeltemal oorgevat en ek kon nie die trane van blydskap keer nie,” sê Antoinette, ’n gebore Bethlehemiet.

Sy het aan die Hoërskool Witteberg gematrikuleer.

Daarna het sy gasvryheidsdienste aan die Kroonstadse Tegniese Kollege studeer en haar nasionale diploma verwerf terwyl sy in Brandfort by die Rusoord-huis vir Bejaardes gewerk het.

Die afgelope 15 jaar staan sy reeds haar plek vol in Residentia Bethulie se kombuis.

“Van ons Residentia-spyseniers se grootste uitdagings is om met die swak ekonomie en stygende pryse gebalanseerde etes voor te berei en ons begroting te laat klop.”

Sy is ’n kreatiewe kok. “Ek maak baie geregte sonder ’n resep, gebruik wat ek beskikbaar het, en waarvoor ek die dag lus voel!”

Benewens al haar pryse, is Antoinette oo gekies om Residentia te verteenwoordig in 2019 se Unilever Masterchef-kompetisie in Durban.

“Die onsekerheid oor alles wat op my wag, maak my bang, maar deur die krag van die Here het ek tot hier gekom en Hy sal my verder op die pad lei. Sonder Hom kan ek niks doen nie,” sê sy beskeie.

Volksblad, 10 Oct 2018 – Coreli Roos